Vroeë Kinderontwikkeling Onderwysspesialis by die Skoleondersteuningsentrum (SOS) en Gimnasium
Marietjie, vertel vir ons ’n bietjie meer van jou onderwysagtergrond en rol by die SOS.
Ek is die Vroeë Kinderontwikkeling Onderwysspesialis by die Skoleondersteuningsentrum (SOS). Voor ek by SOS aangesluit het, het ek vir baie jare as kleuterskool-, Graad R- en Graad 1-onderwyseres gewerk, en later ook as ’n kleuterskoolhoof. My groot passie is om ’n sterk fondasie te help lê waarop kinders met selfvertroue en opgewondenheid hul skoolloopbaan kan begin. Wanneer ’n kind met ’n gesonde selfbeeld en liefde vir leer die skool betree, is die grondwerk vir sukses reeds gelê.
Wat behels die Ontwikkelfase (GrRRR–R) waarby jy betrokke is?
Die Ontwikkelfase is so ’n belangrike tyd in ’n kind se lewe – dit is die fase waarin die meeste breinontwikkeling plaasvind. Teen die ouderdom van vyf is ongeveer 90% van ’n kind se brein reeds ontwikkel, en daarom praat ons van die “ontwikkelfase.”
In hierdie tyd fokus ons op die kind as geheel – gees, siel en liggaam. Ons help hulle om emosioneel gebalanseerd, fisies sterk en kognitief vaardig te word. Ons werk aan taalontwikkeling, luistervaardighede, vroeë wiskundige begrippe soos “meer” en “minder,” en stimuleer kreatiwiteit en nuuskierigheid. Hierdie basiese vaardighede vorm die fondasie waarop toekomstige leer gebou word.
Hoe lyk ’n tipiese leeromgewing in die Ontwikkelfase by Gimnasium?
Ons leeromgewing is doelbewus ontwerp om soos ’n huis te voel – warm en vriendelik. Binne die klaskamers is daar oop ruimtes vir groepsaktiwiteite en kreatiewe spel, maar ook rustiger hoekies waar kinders kan ontspan of selfstandig lees en nadink. Daar is areas waar hulle kan eksperimenteer, mors, bou en skep, asook knus leesplekke vir storietyd. Die idee is dat kinders veilig en geborge voel, want dis juis in daardie omgewing waar leer natuurlik gebeur.
En wat van die buiteruimtes – hoe dra dit by tot leer?
Ons buiteruimtes is letterlik ’n kinderparadys! Dis omring deur groen, en ontwerp om leer en speel natuurlik met mekaar te laat saamvloei. Daar is areas vir klim, klouter, spring en hardloop – alles aktiwiteite wat help met fyn- en grootmotoriese ontwikkeling. Kinders leer om saam te werk, goeie vriendskappe te bou en hul kreatiwiteit uit te leef. Dis ook hier waar hulle ’n liefde vir die natuur ontwikkel en leer om verantwoordelik met hulle omgewing om te gaan.
Wat is jou hoop vir elke kind wat deur hierdie fase beweeg?
My hoop is dat elke kind hierdie fase met verwondering en veiligheid sal beleef. Ek wil hê hulle moet voel dat leer lekker is, dat hulle mag vrae vra, eksperimenteer en foute maak. Wanneer ’n kind daardie vreugde vir leer ontdek, dra dit deur tot in hulle latere skooljare.
Ons doel by Gimnasium is juis om elke kind die kans te gee om hul volle potensiaal te ontwikkel – nie net vir hulle latere skoolloopbaan nie, maar ook vir wanneer hulle as volwassenes hul plek volwaardig in die wyer samelewing inneem.
Hoe werk julle saam met ouers en gemeenskappe in hierdie proses?
Ouers is ons grootste vennote in die leerproses. By Gimnasium glo ons dat opvoeding nie net in die klaskamer plaasvind nie – dit begin by die huis en word versterk deur samewerking. Ons betrek ouers deur oop kommunikasie, gereelde terugvoer, en praktiese raad oor hoe hulle leer tuis kan ondersteun. Wanneer kinders sien dat hul ouers en onderwysers saam werk en dieselfde boodskap uitdra, bou dit selfvertroue en ’n gevoel van stabiliteit.
Ons betrek ook die breër gemeenskap by spesiale projekte en temadae, waar kinders blootstelling kry aan mense, beroepe en ervarings buite die skoolmure. Dit help hulle om die wêreld beter te verstaan en om te sien hoe leer in die werklike lewe toegepas word.
Vertel ons bietjie meer van die samewerking tussen die SOS en Gimnasium.
Die Skoleondersteuningsentrum (SOS) is ’n strategiese vennoot vir Gimnasium en help met navorsing, opleiding van onderwysers, en die verfyning van die onderrig- en leermodel. Ons werk voortdurend daaraan om seker te maak dat die kurrikulum, hulpmiddels en leerervarings relevant bly vir die behoeftes van moderne onderwys.
Wat hierdie samewerking besonders maak, is dat dit nie bloot administratief of teoreties is nie – dit is prakties en lewensgetrou. Die idees wat ons in navorsing ontwikkel, word dadelik in die klaskamer getoets en verfyn. So bou ons saam aan ’n model wat dinamies bly en wat ander Afrikaanse skole ook kan gebruik om die kwaliteit van hul eie onderrig te versterk.
Waar kan mense meer uitvind en betrokke raak?
Besoek gerus ons webwerf gimnasium.co.za vir meer ingligting oor ons onderwysbenadering, fase-ontwikkelingsmodel en die jongste artikels oor opvoeding en leer. Belanghebbendes kan hierdie kontakvorm invul of ’n e-pos stuur aan inligting@gimnasium.co.za om met ons span in verbinding te tree.
By Gimnasium glo ons dat betekenisvolle leer in die vroeë jare die grondslag lê vir alles wat volg – kom bou saam met ons aan hierdie fondasie.