Oor ons

Gimnasium Pretoria se identiteit

'n Skooltuiste vir en vanuit die Afrikaanse taal- en kultuurgemeenskap

Gimnasium Pretoria dra by tot die voortbestaan van die Afrikaanse taal- en kultuurgemeenskap deur middel van opvoedkundige uitnemendheid. Ons bou op ‘n erfenis van uitnemende, roepingsgedrewe onderrig en verbeter dit met beste praktyke en toekomsgerigte onderwysmetodes. Ons onderrig is gebou op ‘n Christelike lewens- en wêreldbeskouing. Ons glo in die waarde van moedertaalonderrig en erken die gesin as bousteen van die skoolgemeenskap.

Waardegedrewe

Ons ondersteun die ontwikkeling van elke kind se unieke potensiaal in ‘n innoverende leeromgewing, wat nie net hul lewens verryk nie, maar ook positief tot die gemeenskap bydra.

Gimnasium Pretoria streef voortdurend na opvoedkundige uitnemendheid en die bevordering van kultuur en geloof. Dit bied ‘n verwelkomende omgewing waar kulturele- en geloofswaardes oorgedra en gevier word. Deur vooruitstrewende onderwysmetodes, bevorder die skool gebalanseerde ontwikkeling in kennis, vaardighede en ingesteldheid, gereed vir ‘n snel-veranderende wêreld.

Beginselvas

Ons professionele onderwysers is nie net opvoeders nie, maar ook vakkundiges wat deurlopend saamwerk om ‘n kurrikulum, gerig op die bereiking van holistiese leeruitkomste, te ontwikkel en te implementeer. Deurlopende professionele ontwikkeling en samewerking waarborg dat die leerplan verantwoordbaar, dinamies en proaktief bly, gerig op die volle ontwikkeling van ons kinders binne hulle onderskeie ontwikkelingsfases.

Akademie en prestasie is belangrik, terwyl daar gefokus word om die regte grondslag te lê, sodat kinders emosioneel en sosiaal vaardig is om as gebalanseerde mense met karakter ‘n blink toekoms te help bou.

Ons is onafhanklik en selfstandig

Gimnasium Pretoria funksioneer as ‘n maatskappy sonder winsoogmerk, gelei deur ‘n direksie en ‘n span uitvoerende leiers met insette van die skoolgemeenskap. Die fokus bly onverwyld om die skool se visie na te streef eerder as om wins na te jaag. Surplusse wat deur die skool gegenereer mag word, word teruggeploeg in die bestaansrede van die skool.

Gimnasium Pretoria word as ‘n onafhanklike skool geregistreer. Dit laat ons toe om ‘n unieke missie met spesifieke etos, geloof en waardes te volg, ons eie toelatingsbeleid te bepaal, die nasionale kurrikulum te verryk en die uitgangseksamen te bepaal. Die skool se opvoeders het daarom groter inspraak in die strukturering van kurrikuluminhoud.

Ons naam

Gimnasiums, oorspronklik deur die ou Griekse gemeenskappe gebruik, het ten doel gehad om kinders tot liggaamlike, verstandelike en geestelike volwassenheid te lei. Tydens die 16de-eeuse Reformasie het gimnasiums in die ou Duitsland ontstaan om protestantse leraars op te lei, wat die Christelike leer toegankliker gemaak het buite die Roomse Kerk. Hierdie opvoedkundige instellings het wêreldwyd versprei, ook na Suid-Afrika. Afrikaanse/Nederlandse protestantse leraars het tussen 1870 en 1910 gimnasiums gestig in plekke soos Stellenbosch en Potchefstroom.

Die naam Gimnasium weerspieël ‘n klassiek-Westerse en Protestantse erfenis, beklemtoon die ontwikkeling van die geheelkind na volwassenheid, en dui op ‘n noue verbintenis met Akademia as ‘n vooraanstaande tersiêre opvoedkundige instelling.

Die Pioniershuis

Die primêre embleem

Die fondasie van die huis

Die Pioniershuis verteenwoordig die Gimnasium as opvoedkundige instelling. Die sterk fondasie is simbolies van ʼn ryk kulturele erfenis en ʼn sterk Christelike geloof waarop kinders kan bou. Dit vestig ‘n gevoel van geborgenheid en verbondenheid met hul geloof en kulturele erfenis. Die breë fondasie simboliseer die skool se aandeel in die vestiging van die opvoedkundige grondslag wat tuis begin.

Die oop deur

Die oop deur dui op verwelkoming, insluiting en oop denke.

Die potlood

'n Potlood wat sentraal na bo wys, verteenwoordig die skool se Christelike etos en die idee van kennis as 'n gawe van God, terwyl dit ook menslike feilbaarheid en aanpasbaarheid voorstel.

Die nok van die dak

Die nok van die dak, in die vorm van 'n "A", verteenwoordig die verbintenis met Akademia en die strewe na akademiese uitnemendheid.

Die huis se vleuels

Die vleuels wat die huis aan weerskante omarm, versimboliseer die rol van onderwysers, ouers en die gemeenskap in die opvoedkundige proses.

Die vleuels se dak

Die diamantvorms van die dak bevestig die rol van die Solidariteit Beweging en die gemeenskap in die skep van 'n veilige en voorspoedige toekoms.

Ons onderrigbenadering

Ons onderrigbenadering sluit direk aan by ons vormingsideaal, naamlik om voortdurend die ware, die goeie en die skone vir elke kind te help ontsluit. Dit lê die grondslag vir volhoubare en waardegedrewe leer.

In die hart van Gimnasium Pretoria se onderwysfilosofie lê die erkenning dat ouers die primêre opvoeders is,  en dat onderwysers as vennote in die opvoedingsproses hierop voortbou. Ons erken die sleutelrol van onderwysers in die oordrag van kennis, vaardighede, kultuur, waardes en die bevordering van ‘n positiewe ingesteldheid tot die lewe.

Tegnologie word doelgerig en strategies ingespan om onderwysers te bemagtig en ‘n optimale leeromgewing te skep. Hierdie benadering beklemtoon die belangrikheid van ‘n leergesentreerde omgewing, waar kinders onder begeleiding van Meesteronderwysers TM, toenemend verantwoordelikheid vir hul eie leerreis neem.

Ware opvoeding kom tot sy reg binne ‘n samehorige gemeenskap van onderwysers, ouers en kinders, elk met ‘n unieke en onvervangbare bydrae tot die leerreis. By Gimnasium Pretoria praat ons van kinders en nie van leerders nie. Ons laat kinders toe om nog kinders te wees en beskou hulle nie as “klein grootmense” nie. By Gimnasium Pretoria word nie net kennis en vaardighede oorgedra nie, maar word karakter en kulturele selfvertroue ook gevorm en gevier.

Een van die antwoorde op die uitdagings van ons tyd

Leon Fourie is die Uitvoerende hoof van die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum

Afrikaanse skole is die hartklop van die Afrikaanse taal- en kultuurgemeenskap. Ons skole onderrig nie bloot in ons moedertaal nie, maar bied ‘n tuiste waar waarde- en kultuuroordrag plaasvind.

Te midde van die uitdagings wat Afrikaanse skole in die gesig staar, ontstaan ‘n groterwordende noodsaaklikheid om antwoorde te bied vir die volhoubare voortbestaan van die Afrikaanse taal- en kultuurgemeenskap.

Gimnasium Pretoria het ten doel om een van hierdie antwoorde te bied op die uitdagings van ons tyd. Ons begronding en identiteit lê juis in ons gemeenskap se DNS van roeping, plig en verantwoordelikheid wat oor geslagte strek.

Gimnasium Pretoria beoog om ‘n volhoubare, hoëgehalte skoolmodel daar te stel, Christelik, Afrikaans en onafhanklik, wat verder in ‘n gemeenskapskonsessie kan uitbrei.

Hierdie instelling is nie net ‘n skool nie; dit is ‘n lewende gemeenskap wat die ryk erfenis van die verlede met die hede verbind, en ‘n toekoms van hoop voorstel.

'n Droom vir ons nageslag

Louis Dekker is die Uitvoerende hoof van Gimnasium Pretoria

Gimnasium Pretoria is ‘n droom wat waar word. ‘n Droom van ‘n generasie wat eienaarskap neem van ons kinders en ons toekoms. ‘n Droom vir myself, vir ons Afrikaanse taal- en kultuurgemeenskap en vir ons nageslag.

Gimnasium Pretoria, met die gemeenskapskonsessie wat volg, sal ‘n baken vir Afrikaanse moedertaalonderrig wees en ‘n vooruitsig van ’n hoopvolle toekoms vir ons kinders. Met tradisionele, dog moderne, beginsels en strategieë, sal Gimnasium Pretoria gebalanseerde kinders die wêreld kan instuur.

Met bewese ervaring in skoolbestuur binne die laer- en hoërskoolomgewing by van die beste skole in Suid-Afrika, is dit vir my ‘n reuse voorreg om te help bou aan ‘n toekoms vir ons kinders anderkant die staat.

Die naam Gimnasium weerspieël ‘n klassiek-Westerse en Protestantse erfenis, beklemtoon die ontwikkeling van die geheelkind na volwassenheid, en dui op ‘n noue verbintenis met Akademia as ‘n vooraanstaande tersiêre opvoedkundige instelling.

Voltooi die vorm om die brosjure af te laai

Brochure Form