Afrikaanse skole se prestasie en uitdagings: ‘n Oorsig van die SOS Matriekuitslaeverslag 2024

deur Louis Dekker, uitvoerende hoof: Gimnasium

Die Solidariteit Skole Ondersteuningsentrum (SOS) het onlangs hulle verslag oor die Nasionale Matriekuitslae van 2024 uitgereik. Soos in die verlede bevat die verslag baie insiggewende statistieke en gevolgtrekkings. Die verslag is ook in die afgelope paar jaar gevestig as een van die mees akkurate ontledings van die jaarlikse uitslae en word deur heelwat skole benut.

Graag wil ek die geleentheid gebruik om die SOS hartlik geluk te wens met die verslag. Ook baie geluk aan die onderskeie skole met puik uitslae!

Uit die verslag was daar ʼn hele paar belangrike gevolgtrekkings wat gemaak kan word, veral ook met die oog op die komende Gimnasium Pretoria en die beplande Konsessie.

Die grootste bekommernis is die dalende getal Afrikaanse skole. Alhoewel die SOS se verslag slegs op die Departement van Basiese Onderwys (DBO) se Nasionale Senior Sertifikaat (NSS) gefokus het, is daar hoofsaaklik op twee maniere na Afrikaanse skole gekyk. Die eerste wyse was vir skole met 15 of meer kandidate wat Afrikaans Huistaal as vak neem. Die tweede was Afrikaans Enkelmedium skole.

Skole met 15 of meer kandidate was in totaal slegs 543 skole wat deelgeneem het aan die DBO se NSS eksamens. Slegs 278 skole wat deelgeneem het aan die eksamens is nog Afrikaans Enkelmedium skole.

Alhoewel die Afrikaans Enkelmediumskole slegs 4,01% van die totale aantal skole uitmaak, is daar ʼn aantal belangrike statistieke om van kennis te neem:

– Afrikaanse skole se slaagsyfer was 89,5% – hoër as nasionale slaagsyfer.
– Enkelmedium Afrikaanse skole se slaagsyfer was nog hoër 90,7%.
– Wiskunde slaagsyfer nasionaal was 69,1%, maar ook hier het Afrikaans Enkelmedium skole heelwat beter presteer met 88,6%.
– Afrikaanse skole se B-Graad toelatingssyfer was 53,4%, met die nasionale gemiddeld op 47,8%.
– Daar kan ook gekyk word na slaagsyfers in die onderskeie vakgebiede, onder andere Wiskunde, Fisiese Wetenskappe ens.

Verder het die verslag ook gefokus op ʼn aantal Top 20 toekennings waarby die Afrikaanse Skole weer met die beste vergelyk:

– Top 20 skole met die meeste onderskeidings Nasionaal – 7 Afrikaanse skole (6 enkelmedium Afrikaans).
– Top 20 Wiskunde skole met meeste onderskeidings – 10 Afrikaanse skole (7 enkelmedium Afrikaans).
– Top 20 Fisiese Wetenskappe skole met meeste onderskeidings – 10 Afrikaanse skole (7 enkelmedium Afrikaans)
– Top 20 Rekeningkunde skole met meeste onderskeidings – 11 Afrikaanse skole (8 enkelmedium Afrikaans)
– En nog vele meer.

Alhoewel die verslag nie volledig is in terme van die Onafhanklike Eksamenraad (IEB) se uitslae nie, kan daar ook duidelik gesien word hoeveel beter die prestasie van die onafhanklike skole is.

Ter afsluiting haal ek graag die volgende uit die verslag aan:

*“Afrikaanse skole presteer uitstekend en vaar op feitlik alle terreine beter as die nasionale gemiddeld. Dit beklemtoon die waarde van moedertaalonderrig en die kultuur van uitnemendheid wat eie aan Afrikaanse skole is.”*

Gimnasium Pretoria, en die verdere konsessie, is vir verskeie redes noodsaaklik.  Vanuit die SOS se verslag is dit egter duidelik dat Afrikaanse skole verminder.  Tesame met die navorsing van die Solidariteit Navorsings Instituut wat aandui dat daar meer Afrikaanse kinders is, dui duidelik dat daar reeds ʼn tekort aan Afrikaanse Skole is.

Verder is dit duidelik dat Afrikaanse Skole se akademiese uitnemendheid van die hoogste standaarde is.

En laastens, so in die jaar wat Afrikaans 100 jaar oud word, is dit duidelik dat daar geen plaasvervanger vir moedertaalonderrig is nie.

Sluit aan by die Gimnasium gemeenskap.

Bly op hoogte met die nuutste nuus en gebeure.

Voltooi die vorm om die brosjure af te laai

Brochure Form