Kaalvoet skooltoe: Bewaar, bevorder en bou vir Afrikaanse onderwys

deur Arno Roodt

Ons almal ken die stories van ons oupas en oumas wat “5 myl te voet oor koppies en deur riviere” skool toe moes stap – kaalvoet nogal. Die verhale (wat sekerlik effens oordrewe vertel is) het egter jou teësin om skool toe te gaan gou-gou afgeweer deur jou grootouers se volgehoue strewe na onderrig teenoor jou skynbare maagpyn te plaas – en klinkklaar uit te wys hoe bevoorreg jy is om vóór die skool se hekke met ’n vol kosblik en skoolskoene aan jou voete afgelaai te word.

Alhoewel jy as graad 9-seun nie noodwendig opgewonde voel om ’n dubbelperiode in wiskunde op ’n Maandagoggend te hê nie, trek hierdie “strewe na onderrig” egter soos ’n goue draad deur Afrikanergeskiedenis – en kon selfs jý dit nie ontduik nie.

Ná afloop van die Tweede Vryheidsoorlog was Afrikanergesinne in die Transvaal en Vrystaat met min gelaat. Alhoewel hulle brandarm was, was die vestiging van eie skole en onderriginstellings ’n hoë prioriteit in die gesig van groeiende verengelsing. Boere, onderwysers en kerke het saamgewerk om stuk vir stuk hul eie skole te stig, en teen 1905 was daar meer as 200 onafhanklike skole wat meer as 9 000 kinders bedien het.

Kort voor lank was Afrikaanse skole die land vol – en het gemeenskappe se inisiatief en inkoop in grootskaalse opheffing (van sowel die mense as Afrikaans as taal) uitgeloop. Vandag nog is Afrikaanse skole wêreldklas, en gewone Afrikaanse openbare skole presteer beter as eliteprivaatskole wat veel hoër skoolgeld vra. Wat sowel hul matriekslaagsyfer as universiteitstoelating betref, presteer Afrikaanse enkelmediumskole ver bo die nasionale gemiddeld.

Hierdie uitnemendheid staan hoofsaaklik op twee bene: moedertaalonderrig en gemeenskapseienaarskap.

Dit is eenvoudig: kinders leer die beste in die taal waarin hulle dink, droom en bid. In die jongste internasionale leesstudie het Afrikaanse graad 6-leerders die nasionale gemiddeld vir graad 6 met meer as 70 punte oortref.

Gemeenskappe neem ook eienaarskap van Afrikaanse skole en dien as rentmeesters van dié gemeenskapshulpbron. Ouers neem aktief aan beheerliggaamverkiesings deel, oudleerlinge kom terug om af te rig en dra by tot alumnifondse, en die skool dra taal, geloof en kultuur, saam met die gemeenskap, aan die volgende geslag oor.

Die Solidariteit Beweging, deur sy instellings, dra met ywer by om elk van die twee bene sterk te maak.

Moedertaalonderrig word beskerm en bevorder deur ons weerstand teen die Bela-wet – wat met grootskaalse optogte, regstappe, onderhandeling en beleidsontwikkeling gerugsteun word. So ook word Afrikaanse onderrig op die voorfront geplaas met die Dink-of-Sink-debatkompetisie, onderwyskongresse en veelvuldige skryfkursusse en slypskole vir leerders.

Ons versterk gemeenskapseienaarskap net so doelgerig. Die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS) staan meer as 200 lidskole by met onderwysersopleiding, vakverenigings en opleiding vir beheerliggame. AfriForum het vanjaar skole as spilpunte van sy gemeenskapswerk erken. Die organisasie ondersteun skole deur veiligheidsoudits te doen, slaggate te herstel en padmerke te verf waar munisipaliteite tekortskiet. Solidariteit Helpende Hand sit sedert 2007 skooltassies in behoeftige graad 1-leerders se hande en help om elke dag meer as 8 000 kleuters te voed.

Om wat ons reeds het te beskerm en te bevorder, is egter net die helfte van die taak. Die staat het in dertig jaar feitlik geen nuwe Afrikaanse skole gebou nie, en daarom bou ons self. Deur die Gimnasium-skolekonsessie kan gemeenskappe hul eie onafhanklike Christelike Afrikaanse skole stig. Gimnasium Pretoria word ook as die eerste ankerskool gevestig. Rondom hierdie skole groei ’n ekosisteem van Afrikaanse onderwys, van die kleuterskool tot by Sol-Tech en Akademia, gerugsteun deur die Wolkskool en Helpende Hand se rentevrye studielenings. Dit eindig ook nie met die laaste eksamen nie. Solidariteit se werkfasilitering en AfriForum se Sakenetwerk help jongmense om werk te kry of hul eie ondernemings te begin. So word Afrikaanse skole deel van ’n pyplyn om ons kinders op te hef, toe te rus en voor te berei vir die wêreld daar buite – met uitnemendheid!

Daar sal natuurlik terugslae wees: nuwe regulasies, vyandige amptenare en skole onder voortdurende druk. Maar net soos ons voorgeslagte streef ons na Afrikaanse onderrig en glo ons dat ons kinders se toekoms ons eie verantwoordelikheid is. Nou, meer as 120 jaar later, gaan ons voort met dié strewe, nie kaalvoet oor koppies nie, maar dié keer met meer mense, sterker instellings en beter gereedskap. Ons gaan aanhou bou.

Sluit aan by die Gimnasium gemeenskap.

Bly op hoogte met die nuutste nuus en gebeure.

Voltooi die vorm om die brosjure af te laai

Brochure Form