Onderhoud met Chanell Badenhorst

Kurrikulumontwikkelaar by die Skoleondersteuningsentrum (SOS)
en Gimnasium

Chanell, kan jy vir ons vertel wat jou rol by Gimnasium behels?

My rol is om die kurrikulum só te struktureer dat dit kinders in hul geheel ontwikkel – nie net akademies nie, maar ook op persoonlike en sosiale vlak. Ek het self ’n agtergrond as onderwyseres, en ek gebruik daardie ervaring saam met navorsing oor beste praktyke in die opvoedkunde om oplossings te skep wat onderwysers prakties in die klaskamer kan gebruik.

My fokus is altyd dat leer sinvol en interessant moet wees. Wanneer kinders sien hoe dit wat hulle leer in die werklike lewe saak maak, begin hulle regtig floreer.

Wat is die groter doel van Gimnasium se onderwysbenadering?

Ons wil kinders toerus om hulle volle vermoë te ontdek en te ontwikkel, sodat hulle later volwaardig kan deelneem in die samelewing. Die visie is eenvoudig, maar kragtig – om ontsagwekkende leerervarings te skep wat kinders help om nie net akademies nie, maar ook as mense te groei. Ons droom is dat elke leerder met selfvertroue, karakter en ’n sterk waardestelsel uit Gimnasium sal uitstap.

Daarom is ons missie om ’n model te bou wat voortdurend verbeter, terwyl dit steeds vir Afrikaanse gemeenskappe toeganklik bly. Dit beteken ons pas ons benadering aan soos nuwe navorsing, tegnologie en praktyke opduik, maar ons bly altyd getrou aan ons kernwaardes en die unieke kultuur van ons gemeenskappe.

Wat maak Gimnasium se leermodel uniek in vergelyking met ander skole?

Baie skole fokus hoofsaaklik op prestasie en punte. By Gimnasium glo ons prestasie is belangrik, maar dit is nie die hele storie nie. Ons glo leer is een van die lekkerste dinge op aarde, en kinders is van nature nuuskierig. Ons probeer om nooit daardie nuuskierigheid dood te druk nie, maar dit eerder aan te wakker.

Elke aktiwiteit, elke projek, maak deel uit van ’n groter prentjie. Ons beplan doelbewus dat dit deel vorm van ’n leerreis waar kinders vaardighede soos kritiese denke, probleemoplossing, spanwerk en selfgerigte leer aanleer. Dit beteken ook dat onderrig nie vasgevang word in ’n handboek nie – ons gebruik die wêreld rondom ons as leerplatform.

Julle gebruik ’n fasebenadering. Hoe werk dit presies?

Ons fasebenadering volg die natuurlike ontwikkelingsvlakke van kinders. Elke fase het ’n ander klem:

  • Ontwikkelfase (GrRRR–R): Hier lê ons die fondament. Kinders leer basiese vaardighede en ons kweek ’n liefde vir leer. Dis soos die bou van ’n huis – as jou fondasie sterk is, kan jy later baie hoog bou.
  • Ontdekfase (Gr1–3): Nou begin kinders regtig nuuskierig raak. Hulle ontdek letters, syfers en maniere om die wêreld te verstaan. Hier lê ons ’n sterk basis van geletterdheid en gesyferdheid.
  • Ondersoekfase (Gr4–6): Leerders begin selfstandig raak. Hulle vra vrae, ondersoek probleme, en ontwikkel vaardighede om oplossings te vind. Ons help hulle om die wêreld meer krities en kreatief te verken.
  • Beleeffase (Gr7–9): Nou skuif die fokus na ervaringsleer. Kinders werk aan projekte, doen navorsing en werk saam in spanne. Hulle begin kennis in realistiese situasies toepas – dit bou selfvertroue en praktiese insig.
  • Bemeesterfase (Gr10–12): In hierdie fase ontdek leerders hul eie belangstellings en begin fokus op spesifieke vakgebiede. Ons lei hulle na selfgerigte leer en maak hulle gereed om die wêreld met selfvertroue te betree – of dit nou universiteit, werk of entrepreneurskap is.

Elke fase is dus ’n natuurlike stap op die pad na volwassenheid, en ons ontwerp die kurrikulum sodat kinders regtig gereed is vir wat vorentoe wag.

Gimnasium plaas sterk klem op tegnologie en innovasie. Hoe pas dit in by die model?

Tegnologie is ’n belangrike hulpmiddel, maar dit is nooit die doel op sigself nie. Ons gebruik tegnologie om leer meer toeganklik, aanpasbaar en relevant te maak. Byvoorbeeld, ons gebruik digitale platforms om onderwysers te help om vinniger te sien waar leerders sukkel, sodat hulle doelgerigte ondersteuning kan bied.

Terselfdertyd glo ons balans is nodig. Niks vervang die menslike interaksie tussen onderwyser en leerder nie. Daarom gebruik ons tegnologie as ’n waardevolle hulpbron, nooit as ’n plaasvervanger nie. Ons wil hê leerders moet gemaklik wees met digitale vaardighede, maar ook sterk wees in verhoudings, kommunikasie en karakter.

Hoe werk julle saam met ouers en gemeenskappe in hierdie proses?

Ons sien ouers en gemeenskappe as ons vennoot. ’n Skool kan nie op sy eie ’n kind grootmaak nie – dit verg ’n gemeenskap. By Gimnasium hou ons gereeld gesprekke met ouers, deel ons hulpmiddels, en skep ons platforms waar hulle ook kan deelneem aan die leerreis.

Ons wil hê ouers moet verstaan dat dit nie net oor punte of eksamenresultate gaan nie, maar oor die vorming van die hele kind. Wanneer ouers en onderwysers in dieselfde rigting werk, kry kinders die ondersteuning wat hulle nodig het om regtig te blom.

Wat wil jy hê belanghebbendes moet weet oor Gimnasium?

Dat ons altyd die groter prentjie in gedagte hou. By Gimnasium is leer meer as net akademie – dit is ’n pad van groei, ontdekking en selfvertroue. Ons droom is dat elke kind wat hier leer, sy of haar volle potensiaal sal bereik en met trots die wêreld sal betree.

Daarom nooi ons ouers, onderwysers, gemeenskappe en vennote om deel van hierdie beweging te word. Deur saam te werk, kan ons verseker dat Afrikaanse kinders toegang het tot ’n onderwysmodel wat relevant, betekenisvol en lewensveranderend is.

Waar kan mense meer uitvind en betrokke raak?

Besoek gerus ons webwerf gimnasium.co.za vir meer ingligting oor ons onderwysbenadering, of nuwe insigte in die opvoedkunde. Belanghebbendes kan hierdie kontakvorm invul of ’n e-pos stuur aan inligting@gimnasium.co.za.

Ons glo onderwys is ’n gesamentlike reis. Hoe meer mense saamwerk, hoe sterker bou ons die toekoms.

Sluit aan by die Gimnasium gemeenskap.

Bly op hoogte met die nuutste nuus en gebeure.

Voltooi die vorm om die brosjure af te laai

Brochure Form