Die wonder van tuiskoms

Die wonder van tuiskoms

Het jy al ooit gewonder hoekom jy soms net vanself tuis voel op ‘n plek wat vir jou vreemd is, asof jy daar behoort?

Dit is ‘n vraag waaroor ons diep tydens die ontwerp van die Sol-Tech-kampus nagedink het. Navorsing toon dat leerders baie beter vaar in ‘n omgewing waarmee hulle ‘n emosionele verbintenis het. Hierdie band, wat dikwels spruit uit ‘n ryk tapisserie van persoonlike ervarings en gedeelde herinneringe, het die krag om ‘n lewenslange, lojale verhouding met die plek te smee, wat baie voordele kan inhou, soos ‘n diepgaande gevoel van behoort, emosionele welstand, en ‘n sterker motivering om terug te gee en die gemeenskap te ondersteun.

Ons ken die verhale van skole waar oudleerlinge lewenslank getrou elke tien jaar terugkeer vir hul reünies, soos ‘n pelgrimstog terug na die plek waar hulle fondamente gelê is. Ander, daarenteen, keer miskien een keer of selfs nooit weer terug nie, asof daar geen band tussen die persoon en die plek is nie. Ek was bevoorreg om my skoolloopbaan by ‘n instelling met meer as 150 jaar se ryke tradisies deur te bring waar die alumni hul bande met die skool lewenslank koester.  Laas week het ek na Stellenbosch gereis om die interskole van my alma mater teen Paul Roos Gimnasium by te woon. Dit was my eerste keer op die Paul Roos kampus, maar ek het skielik ‘n diep gevoel van tuiskoms ervaar – asof ek jare lank deel van daardie gemeenskap was. Dit het my laat wonder: Hoekom?

Was dit die honderde jong manne in hul bekende gestreepte skoolbaadjies wat iets diep in my geroer het of die duisende oud-leerders van beide skole wat steeds trots hul skole kom ondersteun? Of dalk die vriendelike mense wat almal Afrikaans praat, wat ‘n gevoel van verbondenheid versterk? Miskien was dit die gebalanseerde, dog gespanne atmosfeer van gesonde kompetisie, of die historiese geboue wat die stories van legendariese figure met hulle saamdra? Of was dit eenvoudig die krag van al hierdie elemente saam – ‘n simfonie van faktore wat die kampus ‘n onmiskenbare gevoel van “plek” gee?

By Sol-Tech het ons doelbewus gefokus op die skep van ‘n soortgelyke ervaring van tuiskoms, van behoort. Ons het nie net gekonsentreer op die fisiese ontwerp van die kampus nie, maar ook op die skep van ‘n lewende gemeenskap. Ons plaas-tema met die plaasname, ons skaaphond Mielies en die twee hoenders, Sol en Tech, is nie net bykomstighede nie – hulle is deel van ‘n omvattende kultuur van gasvryheid, kameraadskap en warmte. Dit is hierdie kombinasie van fisiese en emosionele elemente wat, wanneer dit geïntegreer word met waardegedrewe opvoeding en gehalte-onderrig, ‘n diepgaande en blywende verbintenis met die plek skep. Dit help ons om nie net suksesvolle gekwalifiseerdes te vorm nie, maar eerder goed afgeronde, gevormde en gelukkige individue wat met trots en lojaliteit aan hul alma mater verbind bly.

Ek weet steeds nie presies watter elemente my so tuis laat voel het op die Paul Roos kampus nie, maar ek weet dat daar iets was wat my aan my eie ervarings herinner het, iets wat my met die gemeenskap daar verbind het. En wanneer ek kyk na die ontwerp van die nuutgevonde Gimnasium Pretoria en hul beplande Kampus, met hul unieke opleidingsmodel, filosofie en passie, voel ek dieselfde opwinding – asof ‘n nuwe tuiskoms wag, ‘n nuwe plek waar ek kan behoort.

Paul van Deventer, Besturende Direkteur van Sol-Tech

Voltooi die vorm om die brosjure af te laai

Brochure Form