Die ondersoekfase by Gimnasium: Hoe ons kinders leer om te dink, te vra en te ontdek

Onderhoud met Hildegard Brummer: Onderwysspesialis en Netwerkskool koördineerder

Hildegard, begin by die begin. Wie is jy, en wat is jou rol by Gimnasium?

Ek is ’n onderwysspesialis by die Skoolondersteuningsentrum, en ek fokus spesifiek op die intermediêre fase by Gimnasium. By ons noem ons dit die ondersoekfase. Dis die fase waar kinders regtig begin vra: “Hoekom?” en “Hoe werk dit?” en ek is mal daaroor.

Jy praat met soveel passie oor dié ouderdomsgroep. Hoekom is graad 4 tot 6 so ’n belangrike fase?

Dis ’n sleuteltyd in ’n kind se ontwikkeling. Navorsing wys dat grysstof in die brein ’n hoogtepunt bereik wanneer kinders so tussen tien en twaalf is. Dit beteken nie ons “druk net meer in” nie. Dit beteken ons moet slimmer dink oor die soort leerervarings wat ons skep. As die brein soos ’n spons is, wil ons seker maak dit wat vasgevang word, is betekenisvol.

Wat bedoel jy met “leerervarings”?

Ek bedoel leer wat ’n kind self laat ontdek. Nie net leer uit ’n handboek nie. Kinders moet kan ondersoek, toets, bou, vra, teruggaan, weer probeer. Dis hoe leer vasbyt. Dis hoekom die grootste fokus in my fase is om te ondersoek.

En hoe maak julle seker dit gebeur in die klas?

Ons werk doelbewus met ’n verskeidenheid onderrig- en leermodelle. Ons pas die regte model by die regte ervaring. En ons doen konstant navorsing, want ons wil nie net doen wat “nog altyd so gedoen is” nie. Ons wil die beste moontlike leerpad vir elke kind bou.

Gimnasium se klaskamers word ook as uniek beskryf. Wat maak dit anders?

Ons ruimtes is buigsaam en oop ontwerp, juis sodat ons leerervarings kan aanpas. Partykeer het jy ’n groot oop ruimte nodig vir samewerking. Ander kere moet ’n kind in ’n kleiner, stiller ruimte kan fokus. Ons kan ruimtes oopmaak of toemaak soos nodig.

So dis nie meer rye tafels en almal kyk vorentoe nie?

Glad nie. Ons is nie meer in die industriële revolusie nie. Ons gaan ’n verskeidenheid meublement hê, omdat kinders nie almal op dieselfde manier leer nie. Die ruimte moet die leer dien, nie andersom nie.

Jy het ook iets gesê oor buiteruimtes. Wat is die plan daar?

Dit is een van die goed waaroor ek die meeste opgewonde is. Ons buiteruimtes by Gimnasium Pretoria gaan nie “net speelareas” wees nie. Ons sien te gereeld dat intermediêre fase kinders ophou speel en ophou ondersoek. Dan verdwyn nuuskierigheid.

En julle wil dit terugbring?

Ja. Ons wil die nuuskierigheid wakker maak. Die buiteruimtes word gebou om kinders amper te “nooi” om te gaan kyk, te vra, te ontdek. Dit moet leer aan die gang sit. Ons wil hê buite kan ook ’n klaskamer wees. Kinders gaan die geleentheid hê om binne en buite te leer, terwyl hulle besig is om te speel en te ondersoek.

As ’n ouer nou luister en wonder wat dit vir hul kind beteken, wat sal jy sê?

Ek sal sê: jou kind gaan nie net “deur ’n fase kom” nie. Jou kind gaan leer om te dink. Om te vra. Om self te ontdek. En ons gaan elke leerder op hul vlak help en bemagtig. Dis vir ons belangrik dat elke kind kan groei op ’n manier wat sin maak.

Laaste vraag. Waaroor is jy die meeste opgewonde?

Om die kinders te ontmoet. Om saam met ons ondersoekfase leerders te ondersoek en te ontdek hoe wonderlik leer werklik kan wees. En om families te verwelkom by Gimnasium Pretoria. Dit is vir ons ’n groot eer.

Sluit aan by die Gimnasium gemeenskap.

Bly op hoogte met die nuutste nuus en gebeure.

Voltooi die vorm om die brosjure af te laai

Brochure Form