Deur Danie Langner
In die groot vertelling van die Voortrekkers op die marmerfriese van die Voortrekkermonument val die kollig hoofsaaklik op leiers, veldslae en roetes. Name soos Retief, Potgieter en Trichardt is helder in die kollektiewe geheue. Tussen die marmerfriese wat die groot oomblikke uitbeeld, weggesteek in ’n hoek, is ’n fries waarop ’n skoolmeester uitgebeeld is. In sy hande is die Trap der Jeugd en enkele ander boeke waarmee die kinders van die Groot Trek onderrig is.
Daniël Pfeffer (soms Pfeiffer gespel) was die onderwyser wat saam met Louis Trichardt die binneland ingetrek het. Van Pfeffer weet ons histories min buiten sy funksionele rol. Geen uitvoerige biografie het behoue gebly nie. Hy verskyn hoofsaaklik in dagboeke en oorsigte as “die skoolmeester”. Selfs al is die biografiese gegewens min, vertel die marmerfries iets betekenisvol. In ’n tyd toe oorlewing, veiligheid en vestiging die grootste prioriteite was, het die gemeenskap steeds ruimte vir onderrig gemaak. Nie as ’n luukse op die trekpad nie, maar as noodsaak.
Onderwys tydens die Groot Trek was allesbehalwe vanselfsprekend. Die treklewe het min vaste ritme gebied. Dit was lang dae, onsekere omstandighede en voortdurende logistieke eise. Tog was daar, merkwaardig genoeg, feitlik geen ongeletterdheid onder die Trekkers nie.
Die rede lê eerstens by die ouers self. Waar geen skoolmeester beskikbaar was nie, het vaders en moeders dié taak opgeneem. Lees en skryf was nie net praktiese vaardighede nie, maar verbind aan geloof en lidmaatskap van die kerk. Die mikpunt was duidelik: kinders moes die Hollandse Bybel kan lees.
Die kerk het dié praktyk versterk. Voor belydenis van geloof is daar verwag dat ’n persoon kon lees, skryf en die Heidelbergse Kategismus ken. Geletterdheid was dus ingebed in die godsdienstige en sosiale orde. Teen hierdie agtergrond word Pfeffer se teenwoordigheid op Trichardt se trek besonder veelseggend. Die skoolmeester was nie net ’n leerkrag nie, maar die draer van kontinuïteit, beskawing, geletterdheid, geloof, tradisie en taal.
By die Soutpansberg, waar Trichardt se mense vir ’n tyd lank vertoef het, is ’n klein skooltjie by die trekkerdorpie Schoemansdal gebou. Een-en-twintig kinders onder sestien het daar onderrig ontvang. Selfs in die ruwe nedersetting met beperkte middele was daar ’n skool.
Soos enige ouer wat besorg is oor sy kind se opvoeding, was Trichardt ook krities teenoor die onderwyser. In sy dagboek kla hy dat Pfeffer nie altyd streng genoeg dissipline gehandhaaf het nie, en dat die skoolwerk te stadig vorder. Hierdie menslike besonderhede red Pfeffer van romantisering. Hy is nie ’n heldefiguur op ’n marmerpaneel nie, maar ’n werklike persoon, onderhewig aan spanning, verwagtinge en die uitdagings van ’n pioniersbestaan.
Pfeffer was nie alleen nie. Hoewel die aantal opvoeders uiters beperk was – altesaam sewe of agt onderwysers in verskillende trekgroepe – het ander skoolmeesters ook saamgetrek.
By Potgieter was daar Meester MacDonald en Tielman Roos; by Maritz die bekende Erasmus Smit, wat beurtelings as prediker en onderwyser opgetree het. Ook sy vrou Susanna Smit wat tot haar dood ’n juffrou was.
Die aard van die onderwys was noodwendig prakties. Die kurrikulum het bestaan uit lees, skryf, sing, somme en godsdiens. Skoolmeubels was primitief en toerusting beperk. Dissipline, orde en volgehoue bywoning was moeilik in ’n samelewing waar kinders ook moes help vee oppas, jag en trek. Tog was daar ’n volgehoue strewe in die Trekkergemeenskap dat moeilike pioniersomstandighede nie ’n verskoning sal wees om ’n geslag sonder onderwys groot te maak nie.
Hierdie strewe het ná die Trek voortgeduur. Op die plase van die vroeë Transvaal het rondgaande huisonderwysers ’n belangrike rol gespeel. Soms was hul kwalifikasies skraal en hul vergoeding karig, dikwels in die vorm van plaasprodukte. Maar die behoefte aan onderwys het nie verdwyn nie. Briewe uit die 1850’s spreek van ’n byna smekende verlange na onderwysers en predikante.
Teenoor hierdie groter prentjie word Pfeffer op die marmerfriese onthou, nie net vir sy eie rol nie, maar as simboliese figuur vir elke onderwyser op die trekpad. Hy verteenwoordig die beginsel dat opvoeding nie afhanklik is van gemak of hoef te wag vir gerief nie. Dat ’n volk op trek steeds boeke oopmaak. Dat kinders ondanks onsekerhede steeds leer lees.
In ’n geskiedenis van beweging, lotsbepalende oomblikke, verliese en ontwrigting, bly dit ’n merkwaardige beeld: ’n klas sonder vaste mure, ’n skool sonder sekerheid van môre, boeke in die hande van ’n onderwyser. Dit is ’n beeld van toekomshoop.
• Dr. Danie Langner is besturende direkteur van die Voortrekkermonument, FAK en Erfenisstigting.