Oorsee om te leer
Goeie onderwys ken geen landsgrense nie – elke gemeenskap bied waardevolle inspirasie vanuit hul eie ervaring. As deel van die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS) se strewe om voortdurend op hoogte te bly van die beste onderwyspraktyke wêreldwyd, het lede van die SOS, Akademia en Gimnasium onlangs ’n studiereis van sowat 3,200km deur New Jersey, Michigan, Indiana, Ohio, Pennsylvania, Washington D.C. en New York aangepak.
Die doel was vanselfsprekend, maar betekenisvol – om te ontdek watter beginsels en praktyke van die Amerikaanse klassiekale onderwysmodel moontlik in die Suid-Afrikaanse konteks toegepas kan word.
Hierdie volgepakte toer het insae gebied in hoe skole oorsee die balans handhaaf tussen akademiese gehalte, karaktervorming en gemeenskapsbetrokkenheid.
Die kern van klassiekale onderwys
Hierdie holistiese en tradisionele manier van leer is daarop gemik om wysheid en deug te kweek. Dis gegrond in die denke van antieke Griekeland en Rome, en plaas taal, lees en die groot werke van letterkunde en filosofie sentraal. Die doel is om uiteindelik logies te kan redeneer en met oortuiging te kan kommunikeer. Daarom gebruik onderwysers die Sokratiese metode (vrae vra eerder as antwoorde gee) om leerders self tot insig te lei.
Waar moderne onderwys dikwels op inligting en tegnologie fokus, streef klassiekale onderwys daarna om die hele mens te vorm – verstand, liggaam en gees.
Skole en ander instellings besoek
Die reis het by Hillsdale College in Michigan begin – ’n universiteit wat sedert 1844 op die Vrye Kunste-benadering fokus. Hillsdale voer aan dat ware onderwys nie net oor kennis gaan nie, maar oor die vorming van karakter en verstandige oordeel. Ons het ’n draai gemaak by die Hillsdale K-12 Education-hoofkantoor (wat opvoedkundige dienste, opleiding, kurrikulum en hulpbronne aan hul netwerk van 100+ skole voorsien) asook die Association of Classical Christian Schools (ACCS) se insiggewende streekskongres bygewoon.
Daarna het besoeke aan verskeie skole gevolg – van die stigtingskool Hillsdale Academy tot Seven Oaks, Columbus, Penn Woods, Veritas en Coram Deo. Al hierdie skole en instellings bewys dat klassiekale onderwys in moderne vorm kan floreer – akademies sterk, maar geanker in geloof en kultuur.
Lesse geleer uit die besoek
Die besoek het ’n ryk prentjie van die klassiekale onderwysmodel geskets. Hierdie benadering streef daarna om kinders te vorm wat nie net kennis het nie, maar wie later as volwassenes vanuit wysheid en karakter met die wêreld kan omgaan.
- Die kurrikulum word gebou rondom die sogenaamde Trivium (grammatika, logika en retoriek) en die Quadrivium (rekenkunde, meetkunde, musiek en sterrekunde). Hierdie model help leerders om denke te ontwikkel wat helder, logies en kreatief is.
- Wat ons die meeste beïndruk het, was hoe onderwysers as leiers in die klaskamer optree. Hulle is nie bloot fasiliteerders nie, maar mentors wat leer rig, gesprekke lei, en die kuns van goeie vraagstelling bemeester het. Tegnologie speel ’n beperkte rol – nie omdat dit afgewys word nie, maar omdat daar ’n diep oortuiging is dat leer eers in die menslike verhouding tussen onderwyser en leerder plaasvind.
- Nog ’n waardevolle les was die sterk netwerk-mentaliteit tussen skole. Nuwe skole word ondersteun deur ervare hoofde van omliggende instellings, en kennis vloei vrylik heen en weer – daar is ‘n gevoel van professionele kameraadskap, nie kompetisie nie. Hierdie ingesteldheid skep ’n kultuur van groei en volgehoue gehalte.
- Verder het ons gesien hoe erfenisbewaring ’n natuurlike deel van die kurrikulum is. Leerders word deurgaans bekendgestel aan die geskiedenis, denke en kuns van hul eie land en Westerse kultuur. Dit bou identiteit en begrip, sodat kinders vanuit ‘n gegronde perspektief die onvermydelike uitdagings van die lewe kan tegemoet gaan.
Toepassing in die Suid-Afrikaanse konteks
Vir Suid-Afrika, en spesifiek vir Gimnasium en die SOS, lê hierdie lesse naby aan die hart. Ons deel dieselfde oortuiging – dat onderwys nie net ’n middel tot akademiese prestasie is nie, maar ’n roeping tot mensvorming. Wat ons by die Amerikaanse skole gesien het, bevestig die pad wat Gimnasium reeds loop – om leer te sien as ’n gemeenskapsprojek. Skole moet in hul gemeenskappe geanker wees, met ouers, onderwysers en kinders wat saam bou aan iets groter.
By Gimnasium glo ons dat ware leer nie begin, of ophou, by die klaskamerdeur nie – dit groei lewenslank uit elke ervaring, elke gesprek en elke geleentheid om nuwe insig te kry.
Hierdie reis het weereens bewys dat wysheid universeel is, én dat dit dieper betekenis kry wanneer dit in jou eie grond geplant word. Daarom bou ons voort aan skole wat kennis met karakter verbind, en waar geloof en gemeenskap saam die toekoms vorm.
Raak betrokke by hierdie groter visie deur in te teken op ons nuusbrief, asook saam te volg op Instagram en Facebook.