Berei ons skole nog ons kinders voor vir die wêreld daarbuite?

Die gesprek duik gereeld op: Faal ons skole ons kinders? Berei ons skole ons kinders werklik voor vir die toekoms? Moet ons anders dink oor onderwys? Die antwoord is egter nie so eenvoudig nie.

Eerstens moet ons eerlik kyk na ons huidige openbare skole. Aan die een kant sit ons met ’n gebroke stelsel – een wat ongelukkig dikwels ’n politieke speelbal geword het. Ons sien skole met beperkte hulpbronne, ’n wêreld wat vinnig verander, en ’n samelewing wat al hoe meer druk op skole plaas. Daar is ’n groeiende kultuur van prestasie – veral op die sportveld – ’n oormatige werkslas op onderwysers, minder mense wat die roeping van onderwys volg, en ’n tekort aan sterk onderwysleierskap.

En tog, ten spyte van hierdie uitdagings, is daar ’n groot aantal Afrikaanse skole wat uitnemend presteer. Daar is skole wat van die hoogste akademiese standaarde handhaaf, terwyl hulle doelbewus aan waardegedrewe dissipline en kultuuroordrag werk. Daar is roepingsgedrewe onderwysers wat met buitengewone toewyding werk. Hierdie skole is nie bloot “goed binne Suid-Afrika” nie – hulle is in baie opsigte wêreldklas.

Die vraag is dus nie of ons alles moet afbreek en van voor af begin nie. Die vraag is eerder: Hoe neem ons dit wat reeds werk, en versterk dit? Hoe maak ons dit meer volhoubaar?

’n Mens hoef nie vêr te kyk om te sien wat reeds reg gedoen word nie. In baie van ons top Afrikaanse skole sien ’n mens ’n unieke kombinasie van sterk akademie, karaktervorming, kultuur en dissipline. Hierdie elemente funksioneer nie in isolasie nie, maar versterk mekaar eerder. ’n Skool se kultuur dra by tot akademiese prestasie; dissipline skep ’n omgewing waarin leer kan plaasvind; en onderwysers speel die sentrale rol om dit alles bymekaar te bring.

En dit bring ons by ’n kritieke, maar dikwels onderskatte faktor: die kwaliteit en sentrale rol van ons onderwysers. Ten spyte van uitdagings – groot klasse, administratiewe druk en beperkte hulpbronne – bly daar ’n kern van onderwysers wat met ongelooflike professionaliteit en roeping werk. Dit is mense wat nie net kennis oordra nie, maar jong mense vorm.

Terselfdertyd leef ons in ’n vinnig veranderende wêreld waar tegnologiese ontwikkeling nuwe druk op onderwys plaas. Toekomsvaardighede soos probleemoplossing, kreatiwiteit, kritiese denke en effektiewe kommunikasie word al hoe belangriker. Tegnologie is ’n kragtige hulpmiddel, maar dit kan nie op sy eie hierdie vaardighede oordra nie. Dit bly die onderwyser – die wêreldklasonderwyser in die klaskamer – wat hierdie vaardighede modelleer en ontwikkel.

Daar word ook gereeld na internasionale tendense verwys. Ons kan en móét by ander lande leer, en sekere modelle kan waardevol wees. Maar dit moet altyd binne ons Suid-Afrikaanse konteks geplaas word. Onderwys is nie ’n uitvoerbare produk nie – dit is diep gewortel in ons taal, kultuur en gemeenskap.

In baie opsigte bevestig internasionale ervaring juis wat ons reeds plaaslik sien: dat goeie skole op duidelike waardes, sterk leierskap en toegewyde onderwysers gebou word.

Terug by die vraag: Berei ons skole ons kinders voor vir die toekoms? Ek glo baie van ons skole doen dit reeds – en doen dit uitnemend. Die uitdaging is om op hierdie sterk fondasie te bou en dit skaalbaar te maak. Te dikwels bly uitnemendheid beperk tot individuele skole of gemeenskappe. Ons moet maniere vind om hierdie praktyke wyer beskikbaar te maak, sodat meer kinders toegang tot kwaliteit onderwys kry.

’n Werklik toekomsgerigte skool is dus nie een wat die nuutste modegier volg nie, maar een wat die balans regkry. Sterk akademie bly noodsaaklik. Karaktervorming en waardes is ononderhandelbaar. Kultuur en dissipline skep die raamwerk waarbinne alles funksioneer. En sentraal tot dit alles staan die onderwyser.

Ons as gemeenskappe moet weer hande vat met ons skole. Ons moet ons onderwysleiers, ons onderwysers en ons skole ondersteun, versterk en beskerm. Ons moet vennote wees in die opvoeding van ons kinders – in hulle karaktervorming én in die ontwikkeling van die vaardighede wat hulle vir die toekoms nodig het.

As ons dit regkry, bou ons nie net volhoubare skole nie – ons bou skole wat floreer, en kinders wat werklik gereed is vir die toekoms en die wêreld daarbuite.

Sluit aan by die Gimnasium gemeenskap.

Bly op hoogte met die nuutste nuus en gebeure.

Voltooi die vorm om die brosjure af te laai

Brochure Form