Van kind tot koersvas: ‘n Gesprek met Lamprecht Lötter oor die bemeesterfase by Gimnasium

‘n Onderhoud met Lamprecht Lötter, fasespesialis vir die bemeesterfase by Gimnasium en Wiskunde-dosent by Wolkskool.

Lamprecht, vertel ons: Wie is jy en wat doen jy by Gimnasium?

Ek is Lamprecht Lötter en ek is die fasespesialis vir die VOO-fase, oftewel die bemeesterfase, hier by Gimnasium. Ek is ook die Wiskunde-dosent by die Skoleondersteuningsentrum se Wolkskool. My werk draai elke dag om kinders – hoe hulle leer, en hoe ons hulle die beste kan ondersteun op pad na volwassenheid.

Wat maak jou passievol oor onderwys?

Ek het ‘n ongelooflike passie vir hoe kinders leer. Hoe hulle konsepte begryp, hoe hulle kennis laag vir laag ontwikkel en dan daardie konsepte sinvol kan toepas. Dis nie net oor die vakinhoud nie. Dis oor hoe ‘n kind daardie kennis in die regte lewe gebruik, hoe hulle dit toepas wanneer hulle die wêreld betree. Dit is wat my elke oggend laat opstaan.

Wat presies is die bemeesterfase?

Die bemeesterfase is waar leerders bemeester wat hulle weet. Maar dis ook meer as dit. Dis daardie belangrike oorgangsfase van kind na volwassene. Ons fokus hier op selfgerigte leervaardighede, die soort vaardighede wat leerders nodig het om suksesvol in die werksplek en op universiteit te funksioneer. So dis akademies sterk, maar ook diep persoonlik.

Hoe verskil die leeromgewing in die bemeesterfase van die vroeër fases?

In die vroeër fases is die omgewing meer onderwyser-gesentreerd. Die onderwyser speel ‘n groter rol op die voorgrond van die kind se leerervaring. Maar soos leerders na die bemeesterfase beweeg, skuif daardie fokus. Die leerder word meer selfgerig in hulle leer. Hulle begin selfbeplanning toepas en leer om onafhanklik te funksioneer. Ons leefruimtes is spesifiek ontwerp om dit moontlik te maak, sodat ons onderwysers daardie leeromgewing kan skep wat elke kind nodig het.

Wat maak die fisiese ruimtes by Gimnasium so besonders vir hierdie fase?

Ons het onder andere buitelugklaskamers waar onderwysers in die natuur klas kan gee. Dit skep ‘n ander energie en ‘n ander manier van dink. Maar die ruimtes ondersteun ook individuele aandag en selfgerigte leer. Elke kind het unieke behoeftes en ons omgewing is ontwerp om daardie individuele ondersteuning moontlik te maak.

Teen graad 10 het leerders al hul vakkeuses gemaak. Hoe help die bemeesterfase hulle van daar af?

Teen die tyd dat leerders in graad 10 aankom, het hulle hul vakkeuses gemaak en ‘n rigting gekies waarin hulle as volwassenes wil beweeg. Ons werk in hierdie fase is om hulle te help om daardie rigting te bemeester. Hulle is op die pad, hulle het ‘n doel, hulle het ‘n droom. Ons taak is om seker te maak hulle bly gefokus, dat hulle nie afdwaal nie, en dat hulle die akademiese ondersteuning kry om uit te kom waar hulle wil wees.

Enige laaste woorde vir ouers wat oorweeg om hul kinders na Gimnasium te stuur?

Raak deel van ons Gimnasium-gemeenskap, en onthou – leer en leef begin eers by die huis, dan by die skool.

Sluit aan by die Gimnasium gemeenskap.

Bly op hoogte met die nuutste nuus en gebeure.

Voltooi die vorm om die brosjure af te laai

Brochure Form