deur Leon Fourie, Uitvoerende hoof: Skoleondersteuningsentrum (SOS)
Krisismomente en ontknoping in Afrikaanse onderwys – die afgelope 200 jaar
Daar was in die afgelope 200 jaar, verskeie krisismomente, waar die voortbestaan van Afrikaanse onderwys bedreig was. Die vernaamste voorbeelde hiervan, was die verengelsingsbeleid na die Britse oorname in 1806 aan die Kaap, asook na die Anglo-boereoorlog. Lord Charles Somerset (1814-1826) is as goewerneur van die Kaap aangestel om die verengelsingsbeleid, in ‘n relatief kort tyd, te implementeer. Dit het o.a. aanleiding gegee tot die Groot trek, asook die vestiging van onafhanklike/privaatskole aan die Kaap. Teen die einde van die 19de-eeu, het die boere-republieke onder Ds. SJ du Toit, ‘n gedesentraliseerde, staatsondersteunde onderwysstelsel gehad. Onder hierdie bestel het ons gemeenskap groter inspraak gehad t.o.v. die opvoeding van hulle kinders, en die staat se rol was beperk tot bydraes en ondersteuning. Dit het die basis gelê vir ‘n doeltreffende stelsel, wat aan die behoeftes van ons gemeenskap voldoen het.
Die volgende krisismoment was die verengelsingsbeleid van Lord Milner na die Anglo-boereoorlog in 1902. In daardie tyd, het die CNO-skole groot vordering gemaak, en binne 3 jaar is daar 250 skole landwyd gevestig. Die ontstaan van hierdie skole, en die druk wat hulle op die stelsel geplaas het, het aanleiding gegee tot ‘n nuwe onderwyswet wat in 1907 in werking gestel is, wat meer gematig was, en deur die meerderheid van ons gemeenskap verwelkom is.
In beide hierdie gevalle is gesentraliseerde staatsmag toegepas, om die verengelsingsbeleide deur te voer. Ons sien vandag dieselfde tendens.
Krisis in Afrikaanse onderwys – vandag
Afrikaanse skole het die afgelope 10 jaar met 30% verminder, dít ten spyte daarvan dat die aantal Afrikaanse kinders vermeerder het. Die BELA-wet maak dit moontlik dat hierdie persentasie in afname drasties gaan versnel.
Daar is vandag, en so ook oor die afgelope paar jaar, `n duidelike en deurlopende aanval op openbare Afrikaans enkelmediumskole, deur nasionale en provinsiale amptenare. In Desember 2025 het die direkteur van basiese onderwys, tydens die parlementêre portefeuljekomitee-vergadering, dit baie duidelik gestel dat transformasie van voormalige model-C skole vir hulle ‘n prioriteit is. Uit verskeie navorsing-stukke, weet ons dat transformasie van Afrikaanse skole, uiteindelik verengelsing van Afrikaanse skole beteken.
Daar is vandag verskeie gelyk-trekke met die krisismomente, en sentralisering van staatsmag van die vroeë 19de en 20ste eeu. Wat egter vandag verskil, is dat ons Afrikaanse skole van die beste skole ter die wêreld is, dat ons sterk georganiseerde ondersteuningsnetwerke en instellings het, wat namens ons skole intree, en ons sterk beheerliggame het wat ons skole help beskerm.
Histories het ons gesien dat ons voorgeslagte erns gemaak het met die opvoeding van hulle kinders, dat Christelike opvoeding vir hulle ‘n prioriteit was, dat daar gesonde waardes en dissipline in skole moet wees, en dat skole deel vorm van ons kulturele huishouding. Ons sien ook ‘n historiese lyn, waar ons gemeenskap self vir die opvoeding van hulle kinders gesorg het, deur onafhanklike skole te vestig waar dit nodig was.
Betekenis van Afrikaanse skole vir ons gemeenskap
Afrikaanse skole is vir ons baie meer as net ‘n plek waar kennis-oordrag plaasvind. Dit is plekke waar ons kinders gevorm word en waardes leer. Dit is skooltuistes wat generasies aan mekaar verbind. Afrikaanse skole is vir ons ‘n verlengstuk van die huis, ‘n plek waar ons kinders veilig en geborge moet voel en ‘n plek waar ons gemeenskap bymekaarkom.
Antwoord vir volhoubare Afrikaanse onderwys
Die volhoubaarheid van Afrikaanse onderwys lê in die mate wat ons selfstandigheid / outonomie van ons skole kan bewerkstellig, ons die professionele ruimte en outonomie van onderwysers kan vergroot, die opvoedkundige gehalte van ons instellings deurlopend kan verbeter, die mate waartoe ons dit kan regkry dat hulle meer koste-doeltreffend kan funksioneer, en waarskynlik die belangrikste van alles, die behoud van ‘n historiese etos en karakter van ons skole. Openbare Afrikaanse skole moet ondersteun en sterk gehou word, terwyl ons gemeenskap in staat gestel moet word om self hoë gehalte skole te vestig waar dit nodig is.
Gimnasium as deel van die antwoord
Die doel met Gimnasium is ‘n plek waar ons kinders leerervarings moet hê, wat hulle voldoende voorberei vir die uitdagings van ‘n snel-veranderende wêreld. Dit is belangrik dat ons kinders ‘n Christelike lewens en wêreldbeskouing sal hê, dat hulle gebalanseerd is en geborge voel, dat hulle waardevolle en gesonde verhoudinge sal bou, dat hulle kultureel verbonde en internasionaal mededingend sal wees, en dat hulle entrepreneuries, lewenslustig en leergierig sal wees.
Gimnasium Pretoria en die Gimnasium konsessie, het ten doel om `n skooltuiste vir ons gemeenskap te wees, wat moet dien as ‘n inspirasie vir ons gemeenskap, om self ook skole te vestig waar dit nodig is. Uiteindelik moet ons hierdeur kan sê, dat daar vir ons ‘n volhoubare antwoord, ook anderkant die staat bestaan. Dat ons hoë gehalte skole, sonder staatsondersteuning kan vestig, en dat ons hoop kan skep om volhoubaar aan die suidpunt van Afrika te kan bly voortbestaan.