deur Johnnie Hay, Dekaan, Fakulteit Opvoedkunde, Akademia
NP van Wyk Louw het reeds in 1939 in sy boek Lojale Verset aangetoon dat Afrikaans en Afrikanerskap voor die keuse van ondergang of voortbestaan gaan kom. Afrikaanse onderwys staan tans weer voor hierdie keuse, met aanslae uit verskeie oorde. Gehalte-onderwys wat oor dekades gebou is met goeie regeringsbefondsing in die vorige bedeling en beduidende ouerbydraes in die nuwe bedeling, is tans in die openbare skole-sfeer onder geweldige druk, veral in die noordelike provinsies. ’n Landwye afname van ongeveer 300 enkelmedium Afrikaanse skole tot onder 1000 tussen 2018 en 2024 is tekenend van die druk wat Afrikaans as onderrigmedium beleef (Afrikaanse Onderwysnetwerk, 2025). Die skokbesef dat daar slegs een enkel-Afrikaansmedium openbare hoërskool tans in Limpopo funksioneer, bring hierdie kruispadboodskap hard tuis.
Genoemde ontstellende onderwyswerklikheid laat vir Afrikaanses die toekoms inkyk om te vra: hoe lank sal ons kinders en kleinkinders nog in kwintiel 4 en 5 openbare skole in Afrikaans kan skoolgaan? Net soos baie van die ouer geslag se kinders in staatshospitale gebore is, maar wat tans amper ondenkbaar is vir die jonger geslag, dui alle tekens daarop dat staatskole mettertyd dieselfde pad gaan loop – en dat Afrikaanses wat glo in moedertaalonderrig, spoedig die roete van privaat enkelmedium Afrikaanse skole sal moet aandurf.
NP van Wyk Louw het reeds in Lojale Verset vooruitgekyk en gesien dat “die dag sal kom dat daar ’n net van Afrikaanse kultuurorganisasies oor ons land uitgestrek lê waarin elke Afrikaner, van die geringste tot die hoogste, betrokke sal wees; wat waarskynlik sterk sentraal saamgesnoer sal wees en soos ’n piramide sal oploop tot sy spits…” Hierdie net van Afrikaanse kultuurorganisasies is tans besig met die onvermydelike opgawe, naamlik om te beplan vir die era van post-gehalte openbare Afrikaanse skole, deur met geloof en visie voluit te werk vir ’n privaat era van enkelmedium gehalte Afrikaanse skole regoor ons land.
Die visioenêre mnr Louis Dekker is reeds aangestel as hoof van die beplande Gimnasium Pretoria – en ons allerbeste wense en voorbidding gaan uit na hom en sy span met hierdie radikale baanbrekerswerk.
Die nuwe Afrikaanse onderwyswerklikheid ontwaak al sterker.