Skole: Die spilpunt van gemeenskappe

Deur Valentyn van der Merwe, Hoof: Innovasie, Skoleondersteuningsentrum (SOS)

Wat gebeur met ’n gemeenskap wanneer sy skool verswak? En daarteenoor, wat gebeur wanneer daardie skool floreer?

Hierdie vrae is nie teoreties nie. Dit is prakties. Dit is tasbaar. In baie dorpe en woonbuurte regoor Suid-Afrika sien ons daagliks hierdie antwoord voor ons uitspeel.

Ek woon my hele lewe lank in Pretoria se Moot. Dit is ’n gebied ryk aan geskiedenis – van Eloffsdal en Les Marais tot Rietondale, Villieria en Waverley. Generasies het hier grootgeword, besighede opgebou en kinders skool toe gestuur. Die strate dra die name van pioniers, onderwysers, sakelui en kultuurleiers. Dit herinner ons daaraan dat gemeenskappe oor tyd gebou word – deur mense wat die besluit neem om verantwoordelikheid te vir hul gemeenskap te aanvaar.

Die afgelope paar jaar het ek iets besonders in die Moot gesien: gewone mense wat besluit het om nie net te kla oor verval nie, maar om self te iets daaraan te begin doen. Die beginsel is eenvoudig – as jy die klein dinge regmaak en standaarde handhaaf, volg groter veranderinge. Wanneer mense omgee, verander omgewings en wanneer omgewings verander, verander gemeenskappe.

Dieselfde beginsel geld vir skole.

’n Skool is baie meer as ’n plek waar akademiese inhoud oorgedra word. Dit is die plek waar ’n gemeenskap se waardes, taal en kultuur geleef word. Dit is waar identiteit gevorm word en waar jong mense voorberei word om verantwoordelik aan die samelewing deel te neem.

Wanneer ’n skool netjies is, goed bestuur word en hoë standaarde handhaaf, stuur dit ’n duidelike boodskap: hierdie gemeenskap gee om. Maar wanneer ’n skool begin verswak, akademies of kultureel, is die impak daarvan wyer as net die skool. Die effek spoel oor na gesinne, besighede en uiteindelik die breër gemeenskap.

’n Skool is nie net ’n instelling nie, dit is ’n anker. En sonder ’n anker begin ’n gemeenskap dryf.

Die wêreld waarin ons kinders grootword, verskil radikaal van die wêreld waarin baie van ons skoolgegaan het. Vandag se kinders leef digitaal, verwerk inligting vinnig en bevraagteken makliker. Hulle wil weet hoekom hulle iets moet leer en hoe dit in hul wêreld pas.

Dit beteken dat skole nie meer net kennis kan oordra nie. Skole en onderwysers moet kinders vlerke geen deurdat hulle kinders se vaardighede ontwikkel, soos kritiese denke, probleemoplossing, aanpasbaarheid en samewerking. Skole moet kinders toerus met toekomsvaardighede wat hulle in ’n vinnig veranderende wêreld staande sal hou. Maar hierdie vlerke moet saam met wortels kom. Wortels in taal. Wortels in waardes. Wortels in kultuur en gemeenskapsbewustheid. As ons net wortels gee, beperk ons ons egter ons kinders en as ons net vlerke gee, ontneem ons hulle van identiteit. ’n Sterk skool gee albei.

Wanneer ’n sterk Afrikaanse skool in ’n gemeenskap funksioneer, bly jong gesinne in die omgewing. Eiendomme word gekoop, plaaslike besighede floreer en sportklubs en kultuurorganisasies bly lewendig. Wanneer ’n skool egter begin agteruitgaan, is die gevolge daarvan vinnig. Gesinne trek weg. Koopkrag verminder, besighede kry swaar en die gemeenskap verklein.

Skole is dus nie net opvoedkundige instellings nie,dit is ekonomiese en kulturele ankers. Om in ’n skool te belê, is nie liefdadigheid nie, maar strategiese gemeenskapsbou.

By die Skoleondersteuningsentrum werk ons vanuit die oortuiging dat sterker skole tot sterker gemeenskappe lei. Deur akademiese ondersteuning, onderwyserontwikkeling en data-gedrewe insigte help ons skole om doelgerig en volhoubaar te ontwikkel. Met Wolkskool fokus ons op die sinvolle integrasie van tegnologie in onderwys – nie om onderwysers te vervang nie, maar om hulle te versterk en om meer doelgerig te werk en elke leerder beter te ondersteun.

Geen organisasie kan ’n skool egter alleen dra nie. Uiteindelik is dit ’n gemeenskap se betrokkenheid, visie en volgehoue ondersteuning wat bepaal of ’n skool sal floreer. Elke gemeenskap kom by ’n punt waar ’n besluit geneem moet word: gaan ons toekyk, of gaan ons bou?

Die toekoms van ’n gemeenskap lê in ’n klaskamer, in die onderwyser wat daagliks voorberei, in die ouer wat betrokke raak, in die beheerliggaam wat verantwoordelik leiding gee, en in die donateur wat glo in iets groter as vandag.

’n Gemeenskap kan sonder baie dinge oorleef, maar nie sonder ’n sterk skool nie. Nie as hy sy identiteit, sy ekonomie en sy toekoms wil beskerm nie.

Wanneer ’n skool sterk staan, floreer die gemeenskap.

En dit begin by ons.


Gimnasium werk nou saam met die Skoleondersteuningsentrum (SOS), ‘n organisasie wat skole help om akademies, bestuurkundig en tegnologies sterker te word. Valentyn van der Merwe, Hoof: Innovasie by die SOS, is ‘n voorste denker oor die rol wat skole in gemeenskappe speel. In hierdie artikel deel hy sy perspektief oor hoekom ‘n sterk skool nie net ‘n opvoedkundige instelling is nie, maar die anker wat ‘n hele gemeenskap bymekaarhou.

Sluit aan by die Gimnasium gemeenskap.

Bly op hoogte met die nuutste nuus en gebeure.

Voltooi die vorm om die brosjure af te laai

Brochure Form