Jy sit soggens met jou koffie en kyk na die nuus. Die 2026-begrotingsrede praat van R527 miljard vir onderwys. Daar is ‘n oorlog in Iran wat oliepryse laat styg en onsekerheid oor die wêreld se ekonomie saai. Die Midde-Ooste se konflik gaan oor veel meer as net een land. Dit gaan oor magstryde tussen grootmoondhede, oor energie, oor handel, oor die toekoms van beroepe en bedrywe.
En al voel dit ver, raak dit ons almal. Dit raak ons beursies, ons brandstofpryse, ons werksgeleenthede.
En dan dink jy: my kind is ses jaar oud. Wat het dit met hom of haar te doen?
Alles.
Want die kinders wat vandag in ons klaskamers sit, gaan môre in hierdie ingewikkelde en komplekse wêreld moet leef, werk en besluite neem. En die een vaardigheid wat hulle meer as enigiets anders sal help om sin te maak van dit alles?
Lees.
Die syfers wat ons nie kan ignoreer nie
Die afgelope weke het ‘n paar berigte verskyn wat ons as ouers regtig moet laat stilstaan en aandag skenk.
Die 2030 Reading Panel se nuutste verslag het gewys: net 3 uit elke 10 kinders in Graad 1 tot 3 kan op hulle graadvlak lees. In sommige tale kan een uit elke vier kinders teen Graad 3 nie ‘n enkele woord lees nie. En 15% van Graad 3-kinders het letterlik ‘n nul behaal in leestoetse. Na drie jaar in die skool kan hulle nie een woord op papier ontsyfer nie.
Soos eNCA berig het: dit is nie net ‘n onderwyskrisis nie, dit is ‘n ekonomiese krisis. Kinders wat nie kan lees nie, word grootmense wat sukkel om te werk, om te verstaan, om deel te neem.
Dink aan jou kind se klas van ongeveer 30 ander kinders. Statisties gesproke kan net 9 van daardie kinders werklik lees op die vlak waar hulle behoort te wees. Dit is skokkend. Maar dit beteken ook: omdat ons bewus is daarvan, kan ons iets daaraan doen.
Hoekom val ons kinders deur die krake?
Onderwysers, ouers en kenners in ons eie gemeenskap het openhartig hieroor gepraat.
En wat hulle sê, maak sin.
- Kinders memoriseer, maar hulle lees nie werklik nie. Leestukke word by die skool oor en oor ingeoefen totdat kinders dit kan “opsê”. ‘n Ma het onlangs vertel: haar Graad 1-dogtertjie “lees” haar skoolboekie pragtig voor. Maar toe sy vra om die sinne in ‘n ander volgorde te lees, kon sy nie. Die kind het nie gelees nie. Sy het onthou. En hierdie ma is een van bitter min wat dit opgetel het.
- Woordeskat krimp. Ons kinders kry ure se skermtyd en dit is byna alles in Engels. Hulle Afrikaanse woordeskat word al hoe kleiner. Sonder ‘n ryk woordeskat word leesbegrip baie moeilik. Luister maar net na hoe kinders vandag praat: vol “Mengelse” woorde, en baie se Afrikaans klink al soos Engelse mense wat Afrikaans probeer praat.
- Kinders leer nie meer om opdragte self uit te voer nie. In ons haastige lewens deel ons ‘n opdrag uit, herhaal dit ‘n paar keer, en op die ou einde doen dit dan maar self omdat dit net eenvoudig vinniger is. Maar daardeur mis die kind die kans om te leer hoe om inligting te hoor, te verstaan, te onthou en dan te uit te voer. En daardie vaardigheid is presies wat lees van hulle vra.
Daar is ook ‘n dieper probleem.
In baie skole het die sogenaamde “heeltaal”-benadering ingesluip, ‘n metode wat kinders leer om woorde as prente te herken eerder as om eers te leer klank. Onderwysers is dikwels self onseker oor wat die regte benadering is. Nie omdat hulle onwillig is nie, maar omdat die opleiding ontbreek.
Die reël is eintlik eenvoudig: eers klank, dan bou elkeen stadig ‘n biblioteek van sigwoorde op.
Wat die kenners ons leer
Melanie Buys, hoof van Ontwikkeling by die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS), het dit kort en kragtig gestel: “Lees is die grondslag van leer. Daarsonder is geen vaardigheidsontwikkeling en ekonomiese groei moontlik nie.”
Die eerste drie jaar van formele skool is die kritiese venster. Dit is wanneer kinders moet oorgaan van “leer om te lees” na “lees om te leer”. As daardie fondament nie gelê word nie, is die res van ‘n kind se akademiese pad in gedrang.
Suid-Afrika bestee 5% van sy BBP aan onderwys, meer as die meeste lande in Afrika. Die probleem is nie hoeveel ons bestee nie, maar hoe dit bestee word. Soos Leon Fourie, Uitvoerende Hoof van die SOS, sê: “Goeie bedoelings beteken niks as dit nie lei tot goeie resultate nie.”
Die navorsing is duidelik oor wat werk: vroeë vestiging van leesvaardighede, tydige opsporing van agterstande, goed opgeleide onderwysers (veral in leesmetodiek), en moedertaalonderrig sodat kinders eers in hulle eie taal leer lees voordat hulle na ‘n tweede taal oorskakel.
Dink aan Scarborough se bekende Reading Rope: lees beslaan nie een enkele vaardigheid nie. Dit is baie drade wat saamgevleg word. Woordeskat, agtergrondkennis, taalstruktuur, klankherkenning, sigwoorde, begrip.
Elke draad tel. As een ontbreek, rafel die tou.
Wat jy as ouer kan doen (en dit is makliker as wat jy dink)
Hier is die goeie nuus: jy hoef nie ‘n onderwyser te wees om ‘n verskil te maak nie. Lees is iets wat tuis begin en tuis groei. En dit vereis nie groot pogings nie, net eenvoudige, daaglikse gewoontes.
- Lees saam met jou kind. Elke dag. Selfs net 10 minute maak ‘n verskil.
- Gee hulle nuwe tekste. Nie net die skoolboekies wat hulle al ken nie. Laat hulle iets lees wat hulle nog nie gesien het nie.
- Praat Afrikaans, ryk en vol. Gebruik groot woorde en verduidelik dit dan. Bou hulle woordeskat bewustelik op.
- Laat hulle self dink. Moenie die opdrag namens jou kind doen nie. Gee hulle tyd om dit self te prosesseer.
- Wees saam nuuskierig. Praat oor wat in die wêreld gebeur. Vra hulle wat hulle dink. Laat lees vir hulle ‘n venster word na die lewe daarbuite.
Onthou: elke keer as jy saam met jou kind ‘n boek oopmaak, bou jy aan iets wat baie groter is as net lees. Jy bou aan hulle vermoë om te dink, te verstaan en die wêreld met selfvertroue tegemoet te gaan.
Lees is die sleutel tot alles
In ‘n wêreld vol spanning, onsekerheid en ‘n stortvloed van inligting, is lees nie ‘n luukse nie. Dit is ‘n noodsaaklikheid.
Lees leer kinders om te dink. Om te onderskei. Om vrae te vra. Om nie net die nuus te lees nie, maar dit te verstaan. Nie net opdragte te volg nie, maar probleme op te los.
Lees is hoe ons kinders toerus. Nie net vir toetse en eksamens nie, maar vir die lewe.
Dít is hoekom Gimnasium bestaan
By Gimnasium glo ons dat lees die begin is van alles wat ons doen. Ons benadering tot onderwys is gebou op ‘n paar eenvoudige, maar kragtige oortuigings.
Ons glo ouers is die eerste opvoeders, en onderwysers bou as vennote daarop voort. Ons glo in moedertaalonderrig, want kinders leer die beste as hulle eers in hulle eie taal kan lees en dink. Ons glo in die ontwikkeling van die geheelkind: kennis, vaardighede, karakter en kulturele selfvertroue. Ons Meesteronderwysers werk deurlopend saam om ‘n kurrikulum te bou wat kinders werklik voorberei, nie net vir die volgende toets nie, maar vir ‘n lewe vol uitdagings en geleenthede.
By Gimnasium word kinders nie as klein grootmense behandel nie. Hulle word toegelaat om kinders te wees, terwyl ons saam met julle, die ouers, ‘n sterk fondament lê. Want ware opvoeding gebeur binne ‘n gemeenskap: onderwysers, ouers en kinders, elkeen met ‘n unieke en onvervangbare rol.
Gimnasium bestaan om een van die mees belangrike antwoorde te bied op die uitdagings van ons tyd. En daardie antwoord begin elke dag, met elke bladsy wat oopgemaak word, met elke storie wat saam gelees word, met elke woord wat ‘n kind leer verstaan.
Dit begin by lees.